Dag 1 - Identiteit en Bestaansreg


_______________, ek roep jou gees tot aandag in die naam van Jesus Christus van Nasaret. Luister met jou gees na die Woord van God vir jou. “U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder. Ek wil U loof, want U het my op ’n wonderbaarlike wyse geskep. Wat U gedoen het, vervul my met verwondering. Dit weet ek seker: geen been van my was vir U verborge toe ek gevorm is waar niemand dit kon sien nie, toe ek aanmekaargeweef is diep in die moederskoot. U het my al gesien toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is” (Ps. 139:13-16 NV).


_______________, jou Vader het jou baie spesiaal gemaak. Jy is ’n besondere persoon – beplan, ontwerp, gevorm en behendig aanmekaargesit deur jou Vader. Voor die skepping van die wêreld, het jou Vader jou reeds beplan. Dit maak nie saak wat ander al vir jou gesê het nie – jy is geen glips, frats, toeval of ongeluk nie. Dit was nie nodig vir jou om te bestaan nie, maar deur sy wil het jou Vader besluit dat jy gebore moet word. Hy het die dag, datum en die oomblik bepaal waarop jou lewe moes begin. Hy het albei jou ouers gekies en jou aanmekaargeweef in die skoot van jou moeder. Hy het beplan wat jou geboorte-orde moes wees en het jou presies geplaas waar jy in jou gesin hoort. Hy het elke een van jou 23 pare kromosome gekies. Hy het elke een van jou meer as 10 000 gene gekies. Hy het elke deel van jou geestelike erfenis soos erfgrond afgemeet. Hy het teruggestrek in jou aardse pa se bloedlyn en jou ma se bloedlyn en uit al jou vorige generasies het jou Vader al die elemente van jou erfdeel gaan haal. Sekere dele is nie so mooi nie en ander is asemrowend mooi. Ten spyte daarvan het jou Vader alles saamgeweef en vir jou alles gegee wat nodig is om jou toe te rus om ’n wenner en meer as ’n oorwinnaar te wees, om die donker dele van jou erfenis te identifiseer en daaroor te triomfeer en om in die mooiheid te wandel van alles wat God in jou geplaas het.


Jou Vader het jou pragtig en geliefd gemaak. Ek seën jou, _______________, want jy is so wonderbaar gemaak, met soveel detail en sorgvuldigheid. God het soveel tyd en aandag bestee om jou perfek te ontwerp. Jy is uniek, enig in jou soort. Daar is niemand anders soos jy nie. God het omvattend oor jou gedink. Elke aspek van jou liggaam, elke orgaan en elke sel is die produk van God se gedagtes oor jou. Elke fasset van jou persoonlikheid is die uitvloeisel van sy welwillendheid teenoor jou. Jy is pragtig en jy is geliefd. God het jou geseën met sy liefde. God het geglimlag die dag toe Hy jou gemaak het en Hy glimlag elke oomblik wanneer Hy aan jou dink. Hy het duisende jare lank gewag vir die spesifieke oomblik toe Hy jou in jou moeder verwek het. Daar was groot vreugde in sy hart op die dag toe sy plan met jou begin vorm aanneem het. Hy versorg, vertroetel en voed jou gees. Hy bewaar jou en bewaak jou.


Jou wêreld het jou nodig. Jy bring iets na jou gesin en familie wat niemand anders het nie. Jou gesin het die gawes nodig wat jy het. Jou gesin en familie is nie volledig sonder jou nie. Ander binne jou invloedkring het presies dít nodig wat God in jou lewe belê het.


_______________, jou Vader het jou dae in sy boek geskryf. Hy het reeds die finale hoofstukke gelees, alhoewel ons nog nie die voorreg gehad het nie. Jy lewe nie uitgelewer aan toeval nie. God sien uit na die hoofstukke van die storie wat Hy reeds geskryf het. Hy het jou geestelike erfenis bepaal. Jou voorgeslagtelike seëninge gaan ’n duisend generasies terug. Daar is ’n geestelike skatkis vol seëninge uit jou voorgeslagte met jou naam daarop. Dit word deur die loop van jou lewe op die bestemde tydstip vir jou oopgesluit. Dit alles is God se meesterplan vir jou. God weet van die pyn wat jy sal hê. Hy belowe dat Hy op grond van sy liefde, sy krag en sy guns oor jou, enige pyn en negatiewe dinge sal omskep in goeie dinge voordat die einde van jou lewensverhaal aanbreek. Ons weet nie alles oor wat jy sal wees en wat jy sal doen nie, maar ons weet dat jy bemind is, jy is ’n seëning vir jou gesin en familie en jy is ’n lewegewer in die wêreld. Jy is spesiaal en ons erken en vier die wonderwerkende en wonderbaarlike Godsontwerp in jou.


Ek seën jou, _______________, in die naam van Jesus Christus van Nasaret.


Antwoord met jou gees...

Skryf jou gedagtes neer