Dag 3 - Om mense te ken wat lewe gee



_______________, ek roep jou gees tot aandag in die naam van Jesus Christus van Nasaret. Luister na die Woord van die Here vir jou. “En wat het my oorgekom dat die moeder van my Here na my toe kom? Want kyk, toe die geluid van jou groet in my ore klink, het die kindjie in my skoot van vreugde opgespring. En salig is sy wat geglo het, want die dinge wat deur die Here aan haar gesê is, sal vervul word” (Luk. 1:43-45 OV).


Elke keer wanneer twee mense mekaar ontmoet is daar ’n wisselwerking van lewenskrag. Daar is hulle wat lewe en energie in jou siel deponeer en daar is ander persone wat energie uit jou tap. Daar was soveel van die lewe en die Gees van God in Maria dat toe sy naby Elisabet en Johannes die Doper in haar moederskoot kom, hulle albei se gees van vreugde opgespring het.


_______________, jy is ’n emosionele lewegewer, maar dis soveel beter om ’n geestelike lewegewer te wees. Jou Vader het jou ontwerp om lewe te ontvang en om geestelik lewe te gee. Jou Vader sal vir jou ontmoetings reël met mense wat jou gees in jou sal laat opspring van vreugde. Ek seën jou om nie altyd in die teenwoordigheid van mense te wees wat jou gees dreineer nie. Mag God jou gereeld seën met mense wat jou gees bedien, mense wat soveel salwing op hulle het, dat jou gees daarop sal reageer. Ek seën jou met goddelike afsprake waar God jou kosbare minute of ure sal gee saam met groot manne en vroue van God. Dit is in hierdie tye wanneer jy in die teenwoordigheid van diepgelowige en Geesgevulde mense is, dat jy vreugde, groei, verryking en salwing in jou gees sal ervaar. Ek seën jou met Goddelike ontmoetings met manne en vroue wat rein is, wat heilige hande ophef en wie se lewens nie net gedissiplineerd is nie, maar ook oorheers word deur die teenwoordigheid van God.


_______________, jou Vader se plan is dat jy goddelike gesag sal hê. Ek seën jou om geestelike seën te ontvang uit die gees van mense wat in gesag wandel al word hulle nie deur die wêreld erken as mense met organisatoriese of institusionele gesag nie. Hulle weet wie hulle is en hulle het ’n ferm greep op hulle identiteit. Hulle het ’n diepgewortelde gevoel van waarde, en daarom wandel hulle in goddelike gesag, onderwerp die demoniese magte en bring die teenwoordigheid van God in situasies in. Hulle lig op wat geknak is; genees die gebrokenes en skep ruimte vir die glorie van God om te vloei. Ek seën jou om saam met mense te wees wat deur hulle voorbeeld vir jou kan leer wat gesag is. Mag jou gees opspring van vreugde en die seën erken wat kom deur skouer aan skouer te loop saam met sterk manne en vroue van God wat ons Koning dien en wat deur ons Koning geseën is met sy triomferende gesag.


Jou Vader se plan is dat jy moet wandel saam met mense wat die guns van God ken. Ek seën jou om sy aan sy met mense te leef wat God se guns ken en ervaar, en wat van dag tot dag ondervind hoe God deure vir hulle oopmaak. Hulle verstaan hoe God struikelblokke uit die weg ruim en hoe God elke oomblik van elke dag beplan en vir hulle voorberei sodat hulle kan wandel in onwankelbare vrede van gees omdat hulle weet wie hulle is en weet dat die guns van God op hulle rus. Ek seën jou om lewe en krag uit hulle gees te put terwyl jy die vreugde deel van mense wat ’n gebaande weg voor hulle het. Ek seën jou dat God jou dikwels in aanraking sal bring met mense wat in die guns van God wandel.


Jou Vader beplan dat jy aansteeklik met sy vreugde sal wees. Ek seën jou om ander aan te steek met die vreugde van die Here. Ek seën jou om soveel van sy vreugde te hê dat dit almal sal raak met wie jy assosieer en dat jy oral waar jy gaan ’n spoor van vreugde agter jou sal laat.


Ek seën jou om mense sinvol bekend te stel aan die ware vreugde en lewe saam met God. Ek seën jou om die vreugde van die teenwoordigheid van God in jou gees aan ander oor te dra terwyl julle saam die lewenspad met groot vreugde loop. Ek seën jou met kameraadskap met mense wat die vreugde van die Here ken en dat God vreugdevolle mense na jou toe bring om jou gees met vreugde te verkwik. Mag jou vreugde hulle aanspoor en mag hulle vreugde jou inspireer sodat julle gesamentlik lewe kan gee.


Ek seën jou in die naam van Jesus Christus van Nasaret.


Antwoord met jou gees...

Skryf jou gedagtes neer